Visit COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal

Bewustheid

Die kuns om in die oomblik te leef...

Gelukkig lewe mens net een dag op ‘n slag! Die kuns word ‘mindfulness’ genoem. Die ander Afrikaanse woord is ‘gedagtigheid’. Persoonlik hou ek meer van ‘bewustheid’, omdat ‘mindfulness’ juis impliseer dat ons wegkom van ons gedagtes.

Ou oosterse helings praktyke het baie van bewustheid gemaak. Omdat dit as ‘n godsdienstige beginsel gesien is, het baie westerlinge daarvan weggeskram. Gelukkig het die westerse sielkunde die onglooflike helingswaarde daarvan gesien, en vandag word dit algemeen aanvaar ter wille van die voordeel wat dit vir gesondheid in die algemeen inhou.

Bewustheid begin by een van twee punte: bewustheid van die liggaam, en bewustheid van die gedagtes.

Hierdie twee punte lê inderwaarheid op een sirkel. Reeds in 1937 is die volgende observasie deur ene Todd gemaak: “For every thought supported by feeling, there is a muscle change … man’s whole body records his emotional thinking”. Hierdie spierverandering is nie beperk tot skeletspiere nie, die totale biochemie reageer op emosionele gedagtes. Hierdie beginsel word baie mooi beskryf in die boek: “Biology of our Beliefs” van Bruce Lipton.

Daar is ‘n verskil tussen ‘bewuste’ en ‘gedagtes’. Gedagtes gaan deur die bewuste. Wanneer ons onbewustelik lewe, neem gedagtes die bewuste oor. Dink aan ‘n lessenaar waarop daar baie gewerk word, maar daar word nooit orde geskep nie. Deur die bewuste ‘bewus’ te hou, word gedagtes stadiger, meer ordelik en meer sinvol.

Onbewuste gedagtes word onbeheersd, en die invloed van die gedagtes op die psige en die liggaam skep verskeie gesondheidsprobleme. Kyk net om jou rond om te sien hoeveel onbeheersde angs, depressie, woede en haat daar by mense is. Gaan kyk ook na die statestieke van hartsiektes, kankers en diabetes – voorkomende gesondheidsorg steun swaar op opsporing van siektes, maar het lankal die stryd teen voorkoming as sulks verloor. Mense wat meer bewustelik lewe, is gesonder mense, wat bewustleikheid deel maak van voorkomende genesing.

Bewustheid is ‘n ingesteldheid. Meditasie is die ‘gym’ om jou bewustheid in te oefen. Deur gereeld te mediteer, leer jy om meer bewus te wees. Die ingesteldheid word dan deurgetrek na hoe jy jou daaglikse lewe ervaar.

Meer goedvoel hormone word afgeskei, en jou lewe word meer genotvol. Maar soos met fisiese oefening, is dit iets wat net jy vir jouself kan doen, en iets wat gereeld gedoen moet word om ‘n effek te hê.

Iemand het op ‘n dag vir Wayne Dyer gesê dat hy nie tyd het om te mediteer nie. Wayne se antwoord was dat hy nie tyd het om siek te wees nie. Om meditasie te beoefen beteken nie dat jy heeldag moet mediteer nie. Dit beteken op die minste dat jy meer bewus moet wees van jou liggaam en jou gedagtes.

  • Hits: 4221
0
0
0
s2sdefault